Andrew Murray-Prys

Grondreëls

ANDREW MURRAY-DESMOND TUTU-PRYSFONDS

GRONDREēLS

(Hersien 2019, 2020, 2025)

 

  1. Doel

 

Die Andrew Murray-Desmond Tutu-Prysfonds (hierna genoem “die Fonds”) beoog om uitnemendheid in die Christelike media en musiek te bevorder deur die bekroning van werk van hoogstaande gehalte in Afrikaans en ander tale van Suid-Afrika, en deur toekennings te maak aan verdienstelike persone en instansies.

 

  1. Die Pryse

2.1 Die Andrew Murrayprys vir Afrikaanse Christelike Boeke word sover moontlik tweejaarliks toegeken aan die skrywer of skrywers van die beste algemeen-Christelike boek wat in die voorafgaande tydperk (sien 4.5) verskyn het. Alle oorspronklike Afrikaanse boeke, behalwe vakwetenskaplike teologiese werke, kom vir hierdie prys in aanmerking. Die prys bestaan uit ’n oorkonde en ’n kontantbedrag.

2.2 Die Andrew Murrayprys vir Afrikaanse Teologiese Boeke word sover moontlik tweejaarliks toegeken aan die skrywer of skrywers van die beste vakwetenskaplike teologiese boek in Afrikaans wat in die voorafgaande tydperk (sien 4.5) verskyn het. Die prys bestaan uit ’n oorkonde en ’n kontantbedrag.

2.3 Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir Algemene Christelike Boeke word sover moontlik tweejaarliks toegeken aan die skrywer of skrywers van die beste algemeen-Christelike boek wat in die voorafgaande tydperk (sien 4.5) in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, uitgesonderd Afrikaans, verskyn het. Die skrywer of die meeste van die skrywers van die wenboek moet burger(s) van Suid-Afrika of Namibië wees (dubbele burgerskap is in orde). Indien meer as een skrywer betrokke is by die boek, moet burgers van Suid-Afrika ’n wesenlike aandeel daaraan hê. Die prys bestaan uit ’n oorkonde en ’n kontantbedrag.

2.4 Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir Teologiese Boeke word sover moontlik tweejaarliks toegeken aan die skrywer of skrywers van die beste vakwetenskaplike teologiese boek wat in die voorafgaande tydperk (sien 4.5) in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, uitgesonderd Afrikaans, verskyn het. Die skrywer of die meeste van die skrywers van die wenboek moet burger(s) van Suid-Afrika of Namibië wees (dubbele burgerskap is in orde). Indien meer as een skrywer betrokke is by die boek, moet burgers van Suid-Afrika ’n wesenlike aandeel daaraan hê. Die prys bestaan uit ’n oorkonde en ’n kontantbedrag.

2.5 Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir Opkomende Skrywers word sover moontlik jaarliks toegeken aan ’n opkomende / debuut-skrywer(s) in die Christelike media in ’n amptelike taal van Suid-Afrika. Die skrywer of die meeste van die skrywers van die wenboek moet burger(s) van Suid-Afrika of Namibië wees (dubbele burgerskap is in orde). Indien meer as een skrywer betrokke is by die boek, moet burgers van Suid-Afrika ’n wesenlike aandeel daaraan hê. Die prys bestaan uit ’n oorkonde en ’n kontantbedrag.

 

  1. Die Toekennings

3.1 Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, Geregtigheid en Versoening word sover as moontlik jaarliks uit fondse wat Jannie Durand van Remgro beskikbaar stel, toegeken aan ’n persoon wat op ’n besondere wyse ’n bydrae lewer of gelewer het tot eenheid, geregtigheid en versoening soos dit onder meer uitdrukking vind in die Belydenis van Belhar.

3.2 Die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir Omgewingsgeregtigheid word sover as moontlik jaarliks uit fondse wat die Christelike Lektuurfonds (CLF) beskikbaar stel, toegeken aan ’n persoon of instansie wat ’n besondere bydrae lewer of gelewer het op die terrein van omgewingsgeregtigheid.

3.3 ’n Spesiale Andrew Murray- of Andrew Murray-Desmond Tutu-toekenning kan, as en wanneer die UR (sien 4) so besluit, toegeken word aan ’n persoon of instansie wat ’n buitengewone bydrae gelewer het tot enige vorm van die Christelike media in ’n amptelike taal van Suid-Afrika. Die toekenning kan bestaan uit ’n oorkonde en ’n kontantbedrag.

3.4 Die Eerwaarde Andries Dreyer-Toekenning: Kerkhistoriese Navorsing word sover moontlik jaarliks uit fondse wat die Nederduits Gereformeerde (NG) Kerk in Suid-Afrika Argief beskikbaar stel, toegeken aan ’n individu of organisasie wat Suider-Afrikaanse kerkgeskiedenis bevorder, gegrond op primêre of argivale bronne, deur middel van publikasies, media of ander projekte wat in die openbare belang toeganklik gemaak word. Die toekenning kan bestaan uit ’n oorkonde en ’n kontantbedrag.

3.5 Die Andrew Murray-SAKOV-Toekenning: Kerkmusiek word sover moontlik jaarliks uit fondse wat die Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsertorrelistevereniging (SAKOV) beskikbaar stel, toegeken aan ’n individu of organisasie wat ‘n sigbare bydrae lewer tot die bevordering van Suider-Afrikaanse kerkmusiek, hetsy deur publikasies, media of ander projekte van openbare belang. Die toekenning kan bestaan uit ’n oorkonde en ’n kontantbedrag.

 

  1. Die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike Musiek is aan die einde van 2024 gestaak.

 

  1. Lede van die Fonds

4.1        Die lede van die Fonds bestaan uit een verteenwoordiger van elkeen van die instansies of persone wat op ’n ooreengekome wyse as skenkers tot die Fonds toegetree het en gekies het om lid van die Fonds te wees.

4.2        In die geval dat enige lid bedank of om watter rede ook ophou om ’n verteenwoordiger van enige van die instansies hierbo genoem te wees, kan sodanige instansie ’n ander verteenwoordiger as lid benoem en die UR (sien 4) dienooreenkomstig in kennis stel.

4.3        Die lede van die Fonds vergader minstens een maal per jaar as Ledevergadering. Die Ledevergadering kan sy werk ook elektronies of per korrespondensie afhandel.

4.4        Die Ledevergadering keur die Grondreëls en wysigings daaraan goed, kies elke drie jaar ’n voorsitter en ondervoorsitter, kies die lede van die UR (sien 4), bespreek en neem besluite oor sake wat vir die Fonds van belang is, insluitende finansiële sake en state, en kan sake vir oorweging of afhandeling na die UR verwys.

4.5        ’n Kworum vir die Ledevergadering bestaan uit die teenwoordigheid van minstens 40% (veertig persent) van die lede in persoon of per volmag. In die geval van ’n staking van stemme, het die voorsitter ’n beslissende stem.

4.6        Die Fonds beskik oor regspersoonlikheid en die voorsitter mag namens die Fonds regsaksie instel of verdedig en met goedkeuring van die Ledevergadering geding voer in enige hof in die Republiek van Suid-Afrika.

 

  1. Die Uitvoerende Raad (UR)

5.1        Die UR bestaan uit sewe (7) lede, onder wie die voorsitter en ondervoorsitter, en word deur die Ledevergadering gekies met termyne wat wissel sodat daar jaarliks minstens twee (2) lede uittree (wat herkiesbaar kan wees).

5.2        Die voorsitter en ondervoorsitter van die Ledevergadering is ook die voorsitter en ondervoorsitter van die UR, met termyne van drie (3) jaar elk (sien 3.4).

5.3        Die UR sorg dat die Fonds in ooreenstemming met die Grondreëls bestuur word, besluit watter pryse en toekennings wanneer toegeken sal word, keur die wenners, die pryse en toekennings. en waarde daarvan goed, in ooreenstemming met 4.9 en 4.10, en oorweeg enige ander tersaaklike aangeleentheid wat deur lede van die Fonds of deur die Ledevergadering voorgelê word. Die UR besluit oor maniere waarop die Fonds finansieel versterk kan word, besluit oor beleggings, keur uitgawes goed, sorg jaarliks dat geouditeerde finansiële state aan die Ledevergadering voorgelê word en vergader so dikwels as nodig. Notules van vergaderings van die UR word gereeld aan lede van die Fonds gestuur vir kennisname.

5.4        Die UR besluit watter persone en/of instansies op watter wyse verantwoordelik is vir die administrasie van die Fonds en doen daaroor aan die Ledevergadering verslag.

5.5        Die UR nader jaarliks media-instansies om hoogstaande produkte vir die pryse in te skryf wat in die voorafgaande tydperk – die lengte waaroor die UR telkens besluit – verskyn het.

5.6        Die UR mag besluit dat produkte wat nie aldus ingeskryf is nie, vir die pryse oorweeg moet word.

5.7        ‘n Produk mag, waar toepaslik, meer as een keer met goedkeuring van die UR vir pryse oorweeg word, maar ’n wenner in ’n bepaalde kategorie kan nie daarna ook in ’n ander kategorie ingeskryf word nie.

5.8        Die UR wys kundige persone aan om, onafhanklik van mekaar, die inskrywings vir die verskillende pryse te beoordeel, en die UR met gemotiveerde aanbevelings te dien.

5.9        Die UR besluit in die lig van die aanbevelings watter produkte/persone bekroon moet word. Lede kry die geleentheid om kommentaar te lewer op dié besluit voordat dit bekend gemaak word.

5.10     In die geval van toekennings, vra die UR nominasies van lede en besluit daaroor ná raadpleging van kundiges en oorlegpleging met lede.

5.11     ’n Gepaste honorarium, soos goedgekeur deur die UR, kan aan beoordelaars betaal word.

5.12     ’n Kworum van die UR word gevorm deur die aanwesigheid van vyf (5) lede. In geval van ’n staking van stemme, het die voorsitter ’n beslissende stem. Stemming by wyse van volmag word toegelaat. Die UR kan sy werk elektronies of per korrespondensie doen.

 

Wysiging

Hierdie Grondreëls mag ná vooraf kennisgewing van ten minste een-en-twintig (21) dae en met ’n tweederde meerderheid deur die lede van die Fonds gewysig word.

 

  1. Ontbinding

6.1 Indien ’n tweederde meerderheid van lede van die Fonds aldus besluit, sal die Fonds ontbind word.

6.2 In die geval van sodanige ontbinding sal die Fonds se beleggings opgeroep, noodsaaklike uitgawes uit die fondse bestry, en die balans oorgedra word na ’n instansie wat die doelstellings van die Fonds ten beste sal dien.

Copyright © 2023 Andrew Murray-Prys