Andrew Murray-Prys

ANDREW MURRAY-PRYS VIR CHRISTELIKE PUBLIKASIES IN AFRIKAANS

Tom Smith se boek, Vind God in die gewone (2024, uitgegee deur Lux Verbi), is die wenner van die 2026 Andrew Murray-prys. Beoordelaars waardeer Smith se deurdagte skryfwerk en praktiese insig waarmee hy gelowiges help om Christus te volg.

LEES MEES HIER

ANDREW MURRAY-DESMOND TUTU-PRYS VIR TEOLOGIESE WERK IN ’N AMPTELIKE TAAL VAN SUID-AFRIKA, BEHALWE AFRIKAANS

Jacques Beukes, Hassan Musa, Fay van Eeden en Mias van Jaarsveld is die redakteurs van die wenboek vir die 2026 Andrew Murray-Desmond Tutu-prys: Care for Africa. Witnesses of Earthkeeping and Ecological Justice (2025, uitgegee deur Christelike Lektuurfonds).

LEES MEES HIER

DESMOND TUTU-GERRIT BRAND-PRYS VIR OPKOMENDE SKRYWERS (DEBUUT WERK)

Mark James is die outeur van die wenboek vir die 2026 Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys: Proud to be Deaf: Ministry, Saintliness and the history of the Catholic Deaf Community in South Africa, 1874 – 1994.

LEES MEES HIER

JAAP DURAND-DENISE ACKERMANN-TOEKENNING VIR EENHEID, GEREGTIGHEID EN VERSOENING

Dr. Wayne Alexander, Wes-Kaap Streekskommissaris vir Grondeise, is die ontvanger van hierdie toekenning vir 2026, geborg deur Remgro Management Services Ltd. Volgens die beoordelaars beliggaam dr. Alexander die gees van die Belhar Belydenis deur sy verbintenis tot eenheid, geregtigheid en versoening op voetsoolvlak. Sy leierskap met betrekking tot die herverdeling van grond verteenwoordig een van die sterkste kontemporêre uitdrukkings van die waardes wat Jaap Durand en Denise Ackermann beliggaam: moedige geregtigheid, deernisvolle versoening en ’n verbintenis tot eenheid wat in die waarheid gegrond is. Dr. Alexander se werk het ’n diepgaande en langdurige impak op gemeenskappe regoor die Wes-Kaap en verder, deur sy worsteling met die herstel van die nagevolge van apartheid. Sy toewyding in hierdie verband maak Dr. Alexander ’n waardige ontvanger van die 2026 Jaap Durand–Denise Ackermann-Toekenning vir Eenheid, Geregtigheid en Versoening.   

Dr. Alexander is genomineer deur Laurie Gaum en aanbeveel deur die Uitvoerende Raad van AMDTPF. Die toekenning beloop R10 000.

CLF-ELISE TEMPELHOFF-TOEKENNING VIR OMGEWINGSBEWARING EN -GEREGTIGHEID

Dr. Attie van Niekerk, stigter van die Nova Instituut (www.nova.org.za), is die ontvanger van die toekenning vir 2026, geborg deur Christelike Lektuurfonds (CLF). Dit word hierdie jaar toegeken aan ’n individu of organisasie wat deur volgehoue en langdurige openbare optrede, georganiseerde projekte of akademiese aktiwiteite, gebaseer op algemeen-Christelike (Bybelse) waardes, ’n betekenisvolle impak maak op die bevordering van omgewingsbewaring en geregtigheid. Die beoordelaars was eenparig in hul aanbeveling om die toekenning te maak aan dr. van Niekerk as stigter van die Nova Instituut in 1994, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat daaraan toegewy is om arm gemeenskappe in staat te stel om hul lewenskwaliteit te verbeter. Nova werk met huishoudings en netwerkvennote in lae-inkomste gemeenskappe regoor Suid-Afrika met die doel om praktiese en volhoubare oplossings te vind vir daaglikse uitdagings wat mense se welsyn en omgewing beïnvloed.

 

Dr. Van Niekerk is deur prof. Ignatius Swart genomineer en deur ’n onafhanklike paneel beoordelaars aanbeveel. Die toekenning beloop R10 000.

ANDREW MURRAY-SAKOV-TOEKENNING: KERKMUSIEK

Hierdie toekenning word vanjaar (2026) die eerste keer toegeken as deel van die Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsertorrelistevereniging (SAKOV) se verbintenis tot die bevordering van kerkmusiek. Dit word toegeken aan prof. Theo van Wyk vir sy werk: The Lockdown-Büchlein: Eighteen Chorale-based Works for the Organ. Prof. Theo van Wyk het dié werk in 2024 gepubliseer. Dit verteenwoordig ’n besondere en betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrikaanse kerkmusiek. Die versameling van agtien koraalgebaseerde orrelwerke neem Bach se Agtien Groot Koraalpreludes as vertrekpunt en het ontstaan uit die unieke konteks van die COVID-19-inperkingstyd – ’n tydperk gekenmerk deur isolasie, onsekerheid en ’n soeke na sin en troos. Die korale wat opgeneem is, wissel van Duitse korale soos die geliefde “Wunderbarer König” en “Nun danket alle Gott” tot kontemporêre liedere soos “As the deer pants for the water”, asook liedere eie aan die Nuwe Apostoliese Kerk, byvoorbeeld “Not human advice”. Prof. Theo van Wyk is al lank ‘n prominente figuur in die Suid-Afrikaanse orrelwêreld, beide vir sy akademiese prestasies, asook vir sy vrygewigheid as mentor. Hierdie versameling dien as ‘n blywende getuienis van sy kunssinnigheid en sy diep sin van roeping.

 

Die beoordelaars was dr. Isabelle van Rensburg, Rineke Viljoen, Anneli Roux, Johann Enslin, Wybrand van der Westhuizen. Die Andrew Murray-SAKOV-Toekenning: Kerkmusiek, word deur SAKOV geborg en beloop R10 000.

EERWAARDE ANDRIES DREYER-TOEKENNING: KERKHISTORIESE NAVORSING

Hierdie toekenning word vanjaar (2026) die eerste keer gemaak as deel van die Nederduits Gereformeerde (NG) Kerk in Suid-Afrika Argief se verbondenheid tot kerkhistoriese navorsing in Suider-Afrika. Die toekenning is daarop gemik om erkenning te gee aan individue of organisasies wat hulle daarvoor beywer om die Suider-Afrikaanse kerkgeskiedenis, gegrond op primêre of argivale bronne, deur middel van publikasies, media of ander projekte in die openbare belang toeganklik te maak. Dr. Gerdrie van der Merwe ontvang die 2026 Eerwaarde Andries Dreyer Toekenning: Kerkhistoriese Navorsing, vir sy bydrae as kerkhistorikus. Hy het reeds meer as vyftig gedenkboeke oor gemeentes en hul verhale asook ander tematiese artikels die lig laat sien. Daarbenewens behartig hy sedert die 1970’s die In Memoriam-rubriek in die Jaarboek van die NG Kerk en Die Kerkbode. Sy liefde vir die NG Kerk en haar geskiedenis blyk ook uit sy buitengewone boekversameling oor die geskiedenis van die NG Kerk en die Afrikaner, met unieke Africana wat in private besit ongeëwenaard is, asook sy unieke versameling kerklike artefakte.

 

Die beoordelaars was die Sinodale Taakspan: Argief van die Nederduits Gereformeerde (NG) Kerk in Suid-Afrika. Die Eerwaarde Andries Dreyer-Toekenning: Kerkhistoriese Navorsing, word geborg deur die NG Kerk in SA en beloop R10 000.

Copyright © 2023 Andrew Murray-Prys