Geskiedenis

STIGTING

Op 9 Mei 1978 het die gemeenskap van Wellington die 150ste herdenking van die geboortedag van dr Andrew Murray op ’n gepaste wyse gevier. Andrew Murray was van 1871 tot 1917 die predikant van die NG Gemeente Wellington. Hy het hom ook onderskei as ’n produktiewe skrywer van Christelike boeke. Daar het ongeveer 250 boeke uit sy pen gevloei. Talle daarvan is in verskillende tale vertaal en word vandag nog wyd en syd in die wêreld versprei en gelees.

Tydens die feesvieringe het die gedagte by dr Frits Gaum, in daardie stadium die uitvoerende direkteur van Bybelkor, ontstaan om ’n prys in die lewe te roep vir die bekroning van Christelike publikasies van hoogstaande gehalte. Hierdie prys sou die naam van Andrew Murray dra om erkenning te verleen aan die groot invloed wat Murray as skrywer en godsman in Suid-Afrika en die wêreld gehad het.

Die aanvoorwerk vir die stigting van die Andrew Murray-Prysfonds is deur die Wamakersvalleise Kultuurraad gedoen. Dr Gaum was voorsitter van hierdie liggaam. Talle instansies is genader om aan die stigting van die Prysfonds deel te neem. Elke deelnemende instansie moes ’n inleggeld van R2 200 tot die Fonds bydra. Die konstitueringsvergadering is op Donderdag, 29 November 1979, in die raadsaal van die Hugenote-Kollege op Wellington gehou.

STIGTERSLEDE

Die volgende persone het as stigterslede die eerste vergadering van die Beheerraad bygewoon:

  • Mnr Timo Crous (Christelike Uitgewersmaatskappy; Stigting F&R Crous)
  • Mnr AG du Toit (Boland Bank)
  • Dr SJ Eloff (Algemene Jeugkommissie van die NG Kerk)
  • Dr FM Gaum (Wamakersvalleise Kultuurraad)
  • Ds JWL Gebhardt (NG Gemeentes, Wellington)
  • Mnr IB Kasselman (NG Kerkboekhandel, Transvaal)
  • Ds HJ Linde (Bybelkor)
  • Mnr WL Maree (Voorligter-Trustfonds)
  • Mnr E Smit (Wellingtonse Onderwyserskollege)
  • Prof PR van Dyk (Hugenote-Kollege)

Die Murray-familie het ook as deelnemende instansie toegetree, maar nòg ds RB Murray (primarius) nòg prof AH Murray (sekundus) kon die vergadering bywoon.

Die volgende persone het die eerste Dagbestuur gevorm:

  • Dr FM Gaum (voorsitter)
  • Prof PR van Dyk (ondervoorsitter)
  • Mnr E Smit (bykomende lid)
  • Ds HJ Linde (dien ampshalwe as verteenwoordiger van Bybelkor as die sekretaris)

NUWE LEDE TOEGEVOEG

Deur die jare is ander instansies deurlopend genooi om as deelhebbers tot die Prysfonds toe te tree. Die volgende instansies het met verloop van tyd toegetree, hoewel nie almal lede in die Beheerraad/Ledevergadering benoem het nie:

  • 1980: Trio-Rand (SA) Bpk.
  • 1980: Vox-Viva (Edms.) Bpk.
  • 1981: Die FAK
  • 1981: Die ATKV
  • 1984: Die Helpmekaar-Studiefonds
  • 1985: Die Sinodale Kommissie vir Publikasies en Kommunikasie van die NG Sendingkerk
  • 1986: Die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys
  • 1987: Die Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk
  • 1990: Nasionale Pers
  • 1993: Christelike  Uitgewersmaatskappy (CUM)
  • 1993: Kuratorium, Teologiese Kweekskool, Stellenbosch
  • 1999: Lux Verbi.BM
  • 1999: Die Christelike Lektuurfonds
  • 1999: NG Gemeente, Kaapstad (Groote Kerk)
  • 1999: Carpe Diem-Uitgewers
  • 2008: Fakulteit Teologie, Universiteit Pretoria
  • 2008: Fakulteit Teologie, Universiteit Vrystaat
  • 2011: FHBC, Wellington
  • 2012: Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch
  • 2016: Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit

DIE INSTELLING VAN DIE ANDREW MURRAY-DESMOND TUTU-PRYS

Op 8 September 2006 kondig die Beheerraad van die Andrew Murray-prysfonds aan dat, afgesien van die Andrew Murray-prys vir Afrikaanse media, ‘n nuwe reeks media-pryse voortaan gereeld toegeken gaan word. Die nuwe pryse – vir godsdienstige en teologiese boeke, Christelike joernalistiek, radio- en klank-en-beeld-produksies in alle amptelike tale van Suid-Afrika – sou bekend staan as die “Andrew Murray-Desmond Tutu-pryse”.

Die Beheerraad was verheug dat emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu ingestem het dat sy naam aan hierdie pryse verbind word. Die koppeling van sy naam aan dié van die bekendste NG Kerk-predikant van die 19de en vroeë 20ste eeu, kan gesien word as ‘n besondere gebaar van versoening. Terwyl Murray en Tutu uit verskillende tye, verskillende kerklike en teologiese tradisies en verskillende dele van die Suid-Afrikaanse samelewing kom, word hiermee gesê dat ons gemeenskaplike geloof in Jesus Christus uiteindelik alle ander verskille te bowe gaan. Daarmee saam is Andrew Murray en Desmond Tutu, wat albei talle teologiese boeke geskryf het, voorbeelde van mense wat die media in hulle tyd op ‘n besondere wyse benut het. Albei het ook opgestaan teen onreg – Murray teen die Britse oorlog teen die Boererepublieke aan die begin van die vorige eeu, Tutu teen die stelsel van apartheid later in dieselfde eeu. Sowel Murray as Tutu is in die Suid-Afrikaanse geskiedenis mense van besondere integriteit en geloofsmoed. Murray was in sy tyd internasionaal bekend vir sy talryke publikasies wat vandag nog gelees word, en Tutu het onder meer die Nobelprys vir Vrede ontvang.

Die Andrew Murraypryse, wat al sedert 1980 toegeken word, sou in die toekoms steeds Christelike en teologiese werke in Afrikaans bekroon. Vir die Andrew Murray-Desmond Tutu-pryse sou Christelike mediawerk in al die amptelike tale van die land in aanmerking kom, met die enigste vereiste dat die skrywers of produsente daarvan Suid-Afrikaanse burgers moet wees (dubbele burgerskap is in orde).

DIE INSTELLING VAN DIE DESMOND TUTU-GERRIT BRANDPRYS

Op 22 Mei 2014 is aangekondig dat ‘n nuwe prys, die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir Opkomende Skrywers, ingestel word. Dié prys staan, soos die Andrew Murray-Desmond Tutuprys, in die teken van versoening. Gerrit Brand was ‘n briljante teoloog verbonde aan die teologiese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch en is in Maart 2013 op 42-jarige leeftyd aan kanker oorlede.

Spesiale toekennings/eerbewyse word ook van tyd tot tyd gemaak vir persone wat besondere bydraes tot die Christelike media gelewer het.

Die administrasie van die Prysfonds word deur Bybel-Media en Christelike Lektuurfornds op Wellington behartig.

GOD SE IRONIE … EN 40 JAAR SE BOEKEPRYSE

“Dis Goddelike ironie”, het emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu met ‘n vonkeling in sy oog gesê toe hy ingestem het dat sy naam aan dié van Andrew Murray gekoppel word in die “Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir algemeen-Christelike en teologiese boeke in ‘n amptelike taal van Suid-Afrika”. En dis waar: daar is iets ironies aan die verbintenis van die name van ‘n wit vroeg-19de eeuse NG dominee en ‘n swart laat-20ste eeuse Anglikaanse aartsbiskop.

Dis in elk geval ‘n sonderlinge teken van versoening – iets waaraan ons deesdae (weer) ‘n groot behoefte het. Want, afgesien van die verskil tussen Murray en Tutu wat ras en taal en kerkverband en tyd van optrede betref, was daar ook jare lank ‘n stram verhouding tussen die NG Kerk en die Anglikaanse Kerk. Dit het eers die afgelope twintig jaar verander, nadat apartheid in Suid-Afrika tot ‘n einde gekom het. Maar Murray en Tutu, albei ook skrywers van baie boeke, het veral één band wat hulle ten spyte van alle verskille bind: hulle geloof in Jesus Christus.

Die eerste Andrew Murray-Desmond Tutuprys is in 2007 toegeken – aan Wentzel van Huyssteen vir sy boek Alone in the world , oor die mens se uniekheid as geskape na die “beeld van God”. Maar teen daardie tyd was die Andrew Murrayprys, wat bedoel is vir Christelike en teologiese boeke in Afrikaans, alreeds amper drie dekades aan die gang. Die Andrew Murray-prysfonds is in 1978 in die lewe geroep en die Andrew Murrayprys is in 1980 die eerste keer toegeken – aan Ferdinand Deist vir sy boek oor gebed, Tussen angs en sekerheid.

Die prysfonds is in die jaar toe Murray se 150ste geboortedagherdenking gevier is, op inisiatief van die destydse Wamakersvalleise Kultuurraad en Bybelkor op Wellington gestig, en is dus vanjaar 40 jaar oud. Die bedoeling met die prysfonds was aanvanklik om gehalte-publikasies met ‘n Christelike inslag in Afrikaans te bekroon. Mettertyd het die Andrew Murray-Desmond Tutuprys, wat ook publikasies in ander amptelike tale van Suid-Afrika insluit, bygekom, en sedert 2015 ook die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk in enige taal van ons land. Brand was ‘n briljante teoloog, in ‘n stadium boekeredakteur van Die Burger en daarna dosent aan die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is in 2013 op 42-jarige ouderdom aan kanker oorlede.

In die afgelope 40 jaar is die verskillende pryse aan bekende én minder bekende skrywers van Christelike en teologiese boeke toegeken. Johan Heyns het die prys drie keer ontvang, en Willie Jonker twee keer. Ander wenners was onder meer Izak de Villiers, Berta Smit, Maretha Maartens, FA Venter, TT Cloete, Allan Boesak, Nico Koopman, Paddy Kearney, Michael Lapsley en Yolande Korkie. Soos dit met pryse gaan, was daar ook omstrede toekennings. In 2001 het die toekenning aan Ben du Toit vir sy boek, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, in sommige kringe ‘n mini-opstootjie veroorsaak. Du Toit se boek het nuwer teologiese denke die eerste keer vierkantig in Afrikaans op die tafel van “gewone lidmate” gesit. Hy het die boek geskryf, het hy in sy voorwoord gesê, sodat sy kinders eendag kan weet waarom hulle pa bly glo het. Daar was ‘n aandrang dat die Andrew Murrayprys liefs daardie jaar nie toegeken moes word nie, maar toe is besluit – soos dit nog altyd die beleid is – dat die beoordelaars se bevinding aanvaar moet word. In daardie geval was die drie beoordelaars eenparig ten gunste van die bekroning van Ben se boek.

Interessante ander toekennings was dié in 2010 aan Paddy Kearney vir sy boek oor die eertydse Rooms-Katolieke aartsbiskop van Durban, Denis Hurley, en in 2013 aan die anti-apartheidsaktivis wat sy hande deur ‘n briefbom verloor het, Michael Lapsley, vir Redeeming the Past. Lapsley het in sy dankwoord gesê hy waardeer die prys veral omdat hy dit “in die hart van die Afrikanerdom” ontvang! Piet Naudé se boek oor die Belhar-belydenis, Neither Calender nor Clock, het in 2011 gewen en ook heelwat aandag getrek.

Natuurlik is daar skrywers wat al een van die pryse moes ontvang het, maar met wie dit nog nie gebeur het nie. Ek dink hier veral aan mense soos Adrio Konig en Jaap Durand wat albei formidabele bydraes tot die Afrikaanse teologiese literatuur gelewer het, maar nog nie met die Andrew Murrayprys bekroon is nie.

Het die Andrew Murray-prysfonds die afgelope 40 jaar ‘n bydrae gemaak om die gehalte van Christelike lektuur te verbeter? Of die toekenning van pryse as sodanig ‘n groot verskil maak, is onseker. Dit is in elk geval so dat die ontvangs van ‘n belangrike prys ‘n aanmoediging vir skrywers is. ‘n Prys word selde van die hand gewys – hoewel dit selfs al met die Hertzogprys gebeur het toe NP van Wyk Louw dit nie in die 1930’s met ‘n mededigter wou “deel” nie. Die aantal Christelike publikasies wat jaarliks verskyn, neem steeds toe, hoewel die gehalte daarvan soms bedenklik is. Die baie vertalings van veral Amerikaanse skrywers se werk in Afrikaans val op en hulle sirkulasiesyfers is in sommige gevalle hemelhoog. Die Andrew Murray-prysfonds bekroon egter nie vertalings nie – net boeke wat oorspronklik in ‘n Suid-Afrikaanse taal geskryf is, kan wen. Gelukkig word daar elke jaar ‘n groot aantal boeke vir die verskillende pryse ingeskryf. Maar ons wag nog vir ‘n wenboek in ‘n inheemse Suid-Afrika-taal (behalwe Afrikaans)! Dit moet eerder vroeër as later gebeur.

* Deur Frits Gaum, voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds: Rapport-Weekliks, 8 Julie 2018